Palouse



Palouse

Landskap, landboustreek en ekostelsel in die noordweste van die Verenigde State


Strek oor die deelstate

Washington
Idaho
Oregon


Ligging in Noord-Amerika




Hoogste bergpiek

Moscow Mountain, Idaho (1 519 m)

Die Palouse [pəˈluːs] is 'n streek in die noordwestelike Verenigde State wat, afhangende van die geografiese definisie, oor twee of drie deelstate strek - die suidooste van Washington en die noorde van Sentraal-Idaho. Volgens sommige definies strek die Palouse ook verder suidwaarts na Noordoos-Oregon. Die streek beslaan sowat 4 000 vierkante myl.[1]

Herfskleure in die Palouse-heuwels in die ooste van Washington

Ondanks sy buitengewone landskapsvorme met golwende groen heuwels, wat aan die streek die bynaam "Toskane van Amerika" besorg het, was die yl bevolkte landelike gebied met sy halfdroë klimaat nooit 'n toeristetrekpleister nie. Weens die geografiese nabyheid van een van die vernaamste setlaarsroetes in die VSA - dit is net 260 km noord van die Oregon Trail geleë - het die Palouse in die laat 19de eeu vinnige groei ervaar toe baie setlaars hulle hier as graanboere gevestig het. Op een tydstip het sy bevolking getallegewys selfs by dié van die digbevolkte Puget Sound-gebied verbygesteek om die mees bevolkte streek van die deelstaat Washington te word.[2] So is die bevolking van Walla Walla volgens die sensus van 1880 as 3 588 bepaal - iets meer as dié van Seattle met 3 533.

Vir die grootste deel van sy gedokumenteerde geskiedenis is die Palouse met graan en peulgroente vereenselwig en het sy rooi skure ikoniese simbole van die gebied geword wat as een van die vrugbaarste landboustreke in die Verenigde State beskou word. Sowat 90 persent van die graanoes word na hoofsaaklik Asiatiese bestemmings in die Stille Oseaangebied uitgevoer. Gronderosie bly die grootste uitdaging vir die plaaslike landboubedryf.[3]

Pullman in Washington en Moscow in Idaho is die streek se ekonomiese spilpunte. Hier is ook twee sogenaamde landskenkingsuniversiteite geleë wat in die vroeë 1890's op federale grond gevestig is, die Universiteit van Idaho in Moscow en die Universiteit van die Deelstaat Washington (Washington State University). Die twee instellings is slegs agt myl of dertien km van mekaar geleë.

  1. Julie R. Monroe: The Making of America Series - Moscow: Living and Learning on the Palouse. Charleston, SC: Arcadia Publishing 2003, bl. 9
  2. D. W. Meinig: The Great Columbia Plains: A Historical Geography, 1805-1910. Seattle: University of Seattle Press 1968 (Hersiene uitgawe 1995), bl. 248
  3. United States Department of Agriculture - Soil Conservation Service | Forest Service | Economics, Statistics, and Cooperatives Service: Erosion in the Palouse: A Summary of the Palouse River Basin Study. Washington, February 1979, bl. 5. Aanlyn beskikbaar: PDF-lêer Geargiveer 23 April 2021 op Wayback Machine

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search